Parlementariërs ontruim Acasiapark vir die bou van 5 000 huise en betrek hul eie Capitol Hill knap langs die parlement in Roelandstraat.
Dít is die droom van die Ierse ontwikkelaars Eurocape, wat onder meer vir die Mandela Rhodes-ontwikkeling en die Taj-hotel in Kaapstad se sakekern verantwoordelik is.
Mnre. Martin Kearns, Eurocape se uitvoerende hoof, en Frank Gormley, voorsitter van die maatskappy, het Vrydag op ’n inligtingsessie gesê die grootste haakplek is om politici sover te kry om dié visie te deel.
Eurocape besit sowat 7 500 m² van ’n reuse-straatblok in Roelandstraat. Dit grens aan grondgebied en geboue wat aan die Wes-Kaapse provinsiale regering behoort en ’n historiese tuin wat deur Iziko-museums bestuur word.
“Waarom moet parlementariërs heen en weer van Acasiapark gekarwei word as hulle en hul gesinne reg langs die parlement kan kom bly in ’n goed ontwerpte behuisings-, kommersiële en leefstylspil in die pas met Melrose Arch in Johannesburg Roelandstraat is boonop so ’n onwaardige poort na die parlement in plaas van die potensiële Champs-Élysées wat dit kan wees,” sê Kearns.
Hy meen Acasiapark is baie meer geskik vir huisvesting vir mense wat in die omliggende kommersiële en nywerheidsgebiede soos Epping, Goodwood en Century City werk.
Eurocape het reeds toestemming vir die R2 miljard-ontwikkeling van sy grondgebied in Roelandstraat en onderhandel met onder meer buitelandse hoteloperateurs en ander potensiële beleggers oor beleggings. Die planne sluit ’n parkade vir 2 500 motors in.
“Die politici stuur ons egter nou al geruime tyd van bakboord na stuurboord en niemand wil ’n besluit neem nie. As Kaapstad dié geleentheid misloop, sal dit ’n groot jammerte wees,” sê Kearns.
Gormley, wat spesiaal vir die vergadering uit Ierland gevlieg het, sê die projek kan binne vyf jaar vir Kaapstad sy eie Capitol Hill besorg en die waarde van daardie deel van die stad ontsluit. Die staatsgrond beslaan tans onder meer skadunetparkering en ’n perseel van ambulansdienste.
“Dit kan egter net so ’n ekonomiese katalisator word as die V&A Waterfront.
“Toe ons ses jaar gelede gepraat het van ontwikkeling in Kaapstad se sakekern, is ons in die buiteland uitgelag en gesê dat ons ons tyd en geld mors. Nie een Suid-Afrikaanse bank het boonop belang gestel nie,” sê Gormley.
Mnr. Andrew Boraine van Kaapstad se Stadsverbeteringsdistrik wys daarop dat die stad se geskiedenis spreek van suksesvolle vennootskappe tussen die openbare en die private sektor – onder meer die V&A Waterfront en die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum.
Die Wes-Kaapse premier, me. Helen Zille, sê: “Ons sal alles moontlik binne die voorskrifte van die wet doen om te help.”
Sake24, PMCarin Smith
23 Junie 2009